Memories

This page will be for those small memories.

Agter Dowwe Glas.

Sien jy ook die Bruidspaar in die gangportret

Wat tussen die ander hang.?

Dis al of die swart en wit vonkel ogies van die Bruid,

my met ʼn tint van ligblou vang.

Langsaan die dogtertjie met die strik in haar hare in die kleiner portret

Dit lyk of sy ‘baby-doll’ skoentjies aan het.

Wat stil sit op die stoel,

Kan sweer ek onthou daai kordaat bekkie

As ek ʼn natspoeg-soentjie deur die spieëlglas voel.

Die Bruidegom verwar my weer 

Die aand na sy troue het hy vir sy bruid voor haar Bordoir gewag

Uiteindelik saam met haar alles gedeel,

 soos Salomo in Hooglied sprag.

Die Kama Sutra was ʼn strokiesprent

Vir so ʼn lawwerige wittebrood sonder end. 

Van Hoofstuk een tot die laaste vers.

Met sout in die blaker vir die afloer-kers. 

Is die skadu’s gemimiek met die kamermusiek

Met die liefde verskuil onder net,

Wat nog weerkaats as jy skuins kyk na die ou gang portret.

Hoe verdwaal dan die oomblik wat dartel en val?

Is dit nou of miskien of gaan ek of sal,

Die heildronk van die troue oorleef,

Lewe oorle pa nog? . Kyk sy das sit skeef !!

Tog roep jou oë van agter die raam…

Fluister asseblief net eenmaal weer my naam.

Miskien onthou jy die plek

….Die Bruidegom is dalk ek. !! …

*************************

Opgedra aan ʼn opregte vriend.

(met Alzheimers)

Vir wie ek omgee.

Nico Moolman

‘n Vriendin het gedeel toe dink ek ons deel dit sommer hier want dis baie gepas. 

30 Junie was ek en my man Andries,37 jaar getroud. Onthou julle nog toe uitnodigings na die troue, per pos gestuur is?  Die gaste moes ook RSVP per pos. Kinders was ook genooi. Gaste wat van ver af gekom het, het by familie en vriende oorgebly.  Die bruidegom moes die drank voorsien.  Die huweliksbevestiging het in die bruid se kerk plaasgevind. Die kerkklok het  oor die hele dorp gebeier om die belangrike gebeurtenis aan te kondig. Die onthaal was gehou in die stadsaal en die troukar was blink gevryf en met spesiale lint versier. Oral het motors getoet om die pasgetroudes geluk te wens. Geen “wedding planner” is gehuur om alles te reël nie. Ek glo baie van julle kan nog vele ander herinneringe byvoeg. Soete herinneringe..

Skrywer Onbekend maar geleen vanaf FB en Kobie Ströh met my gedeel.

000—000

Kombuistee

Kan julle die ruimpies/versies wat gepaard gegaan het met die Kombuistee voor die huwelik onthou.  Dit was amper ‘n tradisie om voor jou eerste huwelik n Kombuistee te hê met beide families se vrouens.  Tuisgemaakte eetgoed en die arme bruid opgemaak erger as Tant Koek se hoenderhaan.  Almal het gelag: en dit was groot pret.  Sy moes raai waar en van wie die geskenkie kom of wat in die pakkie was.  Baie keer, soveel van dieselfde geskenk maar nooit nee dankie nie.  ‘ n Mens kyk mos nie ‘n gegewe perd in die bek nie.  Nee! Bêre dit vir n ekstra of ander dag. Daarna is daar gekoek gesels en soms nog familie uitgelê. 

Darem goeie oue tyd.

Wilma Jansen van Vuuren





Omtrent niemand trou meer in ‘n kerk nie. Jy trou nou by die Villa Toscana Wedding Village of die Kraalkop Boutique Wedding Destination – sulke plekke. Deftig. Duur

So ‘n plek het dikwels sy eie klein kapel. Of daar word op die strand getrou. Of onder ‘n boom op daardie wildplaas, met ‘n troppie rooibokke wat iewers in die agtergrond wei. Hoe koel is dit nie.

Dit is asof ‘n gewone ou kerkgebou te gewoon geraak het vir ‘n troue.

‘n Mens voel byna verplig om neer te skry hoe sulke kerktroues verloop het om iets daarvan in die museum van jou herinneringe te probeer bewaar.

Hoe die bruilofsgaste op ‘n Saterdagmiddag by die kerk aangekom het. Die mans in ‘n pak klere, die vroue met gesalonde hare. Die wat kon in ‘n rok met ‘n kalerige rug. ‘n Handsakkie vol blinkertjies.

Soms het van die manne dikbekkerig by die motor vertoef om na die laaste bietjie rugby oor die radio te luister. Hoe kon Dirkie toelaat dat Rina hulle troue reel op ‘n Saterdag wanneer die Bulle teen die WP speel? Dien jong man sal moet pasop. H kan nie toelaat dat sy nou al op sy kop sit nie.

Hoe byna van die bruid verwag is om so agt minute laat by die kerk op te daag, in haar ryk oom se Mercedes of ‘n gerestoureerde ou Pontiac, opgemaak met stringe helderkleurige kreukelpapier en balonne.

En wanneer die bruid die kerk ingestap het, met haar gevolg van blomme- en strooimeisies, het almal regop gekom terwyl die orrelis Mendelssohn se troumars speel:

“Pa-ra-pa-paaa, pa-ra-paa…” terwyl hier en daar ‘n vrou ‘n traan met ‘n bewerige snesie afvee en die bruid se ouma effens te hard fluister: “Die kind lyk darem pragtig, ne?” Op ouma se kop ‘n hoedtjie wat soos ‘n vlieende piering lyk.

Die predikant het dinge gewoonlik meer informeel as gewoonlik gedoen, sonder om te informeel te wees. Jy moes steeds besef die huwelik is ‘n heilige instelling van God. Om te skei is ‘n sonde.

En nadat die bruid en bruidegom mekaar die regterhand gegee en gesoen het, het ‘n familievriend of -vriendin dalk die “Ave Marie” vir hulle gesing.

By die deur, op pad buitetoe, het jy ‘n pakkie konfetti of roosblare uit een van die blommemeisies se mandjie geneem, dan het jy op die grasperk voor die kerk gewag vir die bruid en die bruidegom om te verskyn. Hulle moet net eers die boek teken.

Intussen het een van die manne in die motor gaan luister of die Bulle toe gewen het. By die onthaal sal seker darem sjampanje wees, maar net vir ingeval het hy ‘n bottel brandewyn in die motor se kattebak gebere.

Die onthaal is in die saal langs die kerk gehou. Hoe dan anders? Die bruid se ma en haar vriendinne het deur die nag en haar vriendinne het deur die nag gespook om die kos klaar te kry en die taels te versier. Op elke tafel ‘n rangskikking ranonkels en dennebolle wat silwer gespuitverf en rondom ‘n geel kers gepak is.

Maar voor die onthaal kon begin is die foto’s eers geneem. In ‘n ry sou hulle daar voor die ou Moederskerk gestaan het, die bruidegom, die bruid stralend, die onderskeie ma’s met hulle hoe hare en die pa’s elkeen met ‘n angelier in die lapel. Stemmig. Eenvoudig.

Nou is dit anders. Een fotograa is nie meer genoeg om alles op ‘n troue vas te le nie. Nou is daar ook ‘n videograaf by, dalk selfs ‘n assistent. Soms word van die paartjies verwag om in ‘n boom te klim of om die lug in te spring of om na mekaar toe aangehardloop te kom. Ek kan my verkyk aan party van die troufoto;s wat jy som in die koerant sien. Hier kom Dries, effe oorgewig, soos ‘n jong Os du Randt met ‘n rooi cumberband om sy maag oor Villa Toscana se grasperk gehardloop na sy geliefde Madel toe….

Op ‘n troue is ook nie meer so ‘n seremoniemeester nie: ‘n jollie oom van die bruidegom met ‘n drankprobleem wat voor almal vertel hoe die bruidegom voor hom grootgeword het en hoe hy hom as babatjie help bad het en hy kan vir seker vir die bruid vanaand se sy is ‘n baie, baie, baie gelukkige meisie.

‘n Troukoek bestaan ook nie meer uit drie of vier lae nie. met heel bo-op ‘n beeldtjie van ‘n bruid en ‘n bruidegom. En elke gas het ‘n wiggie vrugtekoek gekry, toegedraai in selofaan, met ‘n kaartjie daarby waarop iets gestaan het soos: “Baie dankie dat u ons groot dag vir ons so spesiaal help maak het. Bert en Tilla. “En daardie wiggie het die bruid se ouma tot met haar dood in haar vertoonkas gehou.

Nou kry elke gas ‘n pers kolwyntjie en kyk almal vreemd na jou as jy spontaan vir die bruidegom begin sing: “Hy lyk vir my so baie soos tant Koek se hoenderhaan” voor hy met sy toespraak begin. Jy sal dit nie sommer ook maar waag om laataand met jou das om jou kop gedraai te dans nie.

Miskien is ek net besig om ‘n nukkerige ou man te word wat nie kan aanvaar alles op aarde verander nie. Ook troues. Miskien moet ‘n mens se troudag so oordadig wees soos die era waarin ons leef – ons gewone mense se enigste geleentheid om soos prins Harry en sy Meghan te voel.

Maar nou het die Covid-19-virus ook weer alles anders kom maak. By die Kraalkop Boutique Wedding Destination is glo nog nie weer ‘n troue gehou nie.

Soms voel dit of ek al hoe minder van die wereld verstaan.

geleen van uit: Die Kerkbode